Artikel 10(1)(o)(ii) bied verligting aan belastingbetalers deur nie op buitelandse indiensnemingsinkomste (“employment income”) belas te word nie aangesien die buitelandse maatskappy reeds LBS / belasting op daardie inkomste aftrek. Daar is egter sommige lande waar hul eie belastingwette bepaal dat geen belasting op buitelandse indiensnemingsinkomste afgetrek word nie. Die effek daarvan is dat sekere individue dan effektief geen belasting in enige land betaal nie.
Artikel 10(1)(o)(ii) is gevolglik hersien en die wysigings waaroor almal gons tree effektief 1 Maart 2020 in werking. Ingevolge die wysigings sal slegs die eerste R1 miljoen van buitelandse indiensnemingsinkomste vrygestel wees van belasting. Enige buitelandse indiensnemingsinkomste van meer as R1 miljoen sal in Suid-Afrika belas word deur die normale individuele belastingtabelle toe te pas. Die effektiewe belastingkoers sal bepaal word met verwysing na die totale wêreldwye inkomste en geagte inkomste, verminder met die eerste R1 miljoen ten opsigte van buitelandse inkomste uit indiensneming.
Artikel 10(1)(o)(ii) vrystelling
Die vrystelling is slegs van toepassing indien –
Dit is baie belangrik om daarop te let dat hierdie vrystelling slegs op belastingpligtiges van toepassing is wat ingevolge die Inkomstebelastingwet, soos omskryf in artikel 1, as inwoners beskou word.
Inwonerstatus
Suid-Afrika maak gebruik van ’n inwonergebaseerde belastingstelsel, wat beteken dat inwoners op hul wêreldwye inkomste belas word. Al werk jy al vir jare oorsee, maar jou tuisland is steeds Suid-Afrika, moet alle buitelandse inkomste steeds aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verklaar word en die toepaslike belasting daarop afgetrek word. Ten opsigte van nie-inwoners is slegs ontvangstes en toevallings uit ’n Suid-Afrikaanse bron aan normale belasting in Suid-Afrika onderhewig.
Uit bogenoemde is dit waarskynlik dat baie buitelandse werknemers nie deur die wysigings aan artikel 10(1)(o)(ii) geraak word nie, aangesien hulle in elk geval nie as inwoners (vir Suid-Afrikaanse belastingdoeleindes) beskou word nie.
’n Belastingpligtige sal as ’n inwoner beskou word indien daar aan een van die onderstaande toetse voldoen word:
(1) die gewoonlik woonagtig-toets; of
(2) die fisiese teenwoordigheidstoets en die persoon word nie geag uitsluitlik ’n inwoner van ’n ander land te wees vir die doeleindes van enige dubbelbelastingooreenkoms nie.
’n Persoon wat ingevolge ’n dubbelbelastingooreenkoms tussen die land waarin hul werk en Suid-Afrika as ’n uitsluitlike inwoner van die ander land geag word, sal nie as ’n inwoner van Suid-Afrika kwalifiseer nie, selfs al voldoen die persoon aan die voorvereistes om as ’n inwoner te kwalifiseer.
Finansiële emigrasie (FE)
’n Algemene wanpersepsie om nie as ’n inwoner geag te word nie, is om finansieel uit Suid-Afrika te emigreer. FE is nie ’n voorvereiste om vir belastingdoeleindes te emigreer nie en dit veroorsaak of waarborg ook nie dat ’n persoon na FE ’n nie-inwonerstatus sal bekom nie.
FE is ’n formele aansoek aan die Suid Afrikaanse Reserwe Bank om ’n nie-inwoner te word vir ruilbeheerdoeleindes (exchange control purposes).
Indien ’n persoon wél finansieel emigreer het kan dit hul saak versterk dat hul nie aan die gewoonlik woonagtig-toets voldoen nie, en dus as nie-inwoner geag moet word.
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)