As deel van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se deurlopende pogings om doeltreffendheid en voldoening te bevorder, is verskeie wysigings op 26 Februarie 2018 aan die jaarlikse inkomstebelastingopgawes vir maatskappye (ITR14) aangebring.
Twee nuwe skedules is op die ITR14 bygevoeg. Eerstens moet maatskappye wat die leerskaptoelae kragtens artikel 12H van die Inkomstebelastingwet[1] wil eis, voortaan besonderhede van hul geregistreerde leerskappe in ’n afsonderlike skedule verskaf. Kragtens hierdie skedule word afsonderlike besonderhede benodig vir leerders met ’n ongeskiktheid en leerders sonder ’n ongeskiktheid, vir beide NKR vlak 1 tot 6 en NKR vlak 7 tot 10. Verder moet die getal leerders en die toelaebedrag vir elk van hierdie groepe voltooi word.
Die tweede skedule het betrekking op beheerde buitelandse maatskappye (BBM’s). Kragtens artikel 72A van die Inkomstebelastingwet moet inwonende maatskappye wat ten minste 10 persent van die deelnameregte in enige BBM besit (anders as indirek deur ’n maatskappy wat inwonend is) ’n opgawe by die SAID indien. Die “ou” IT10B Adobe PDF-skedule is vervang deur ’n vereenvoudigde MS Excel IT10B-skedule wat maatskappye in staat stel om alle BBM-inligting te verklaar in een gekonsolideerde skedule wat as ’n ondersteunende dokument op eFiling opgelaai kan word, ongeag die aantal belange wat ’n maatskappy in BBM’s het. Die nuwe IT10B-skedule moet gebruik word en op eFiling gelaai word vir alle ITR14’s wat vanaf 1 Junie 2018 ingedien word. Belastingbetalers wat reeds BBM-inligting gebaseer op die ou formaat voltooi het, word hierdeur tegemoetgekom.
Addisionele vereistes vir die verskaffing van inligting is ook ingestel vir groepe maatskappye wat gekonsolideerde finansiële state voorberei. In die toekoms moet maatskappye met filiale ’n volledige groepstruktuur saam met die ITR14 indien. Nuwe vrae met betrekking tot land-vir-land verslagdoeningregulasies is ook bygevoeg. Maatskappye wat aan hierdie regulasies onderhewig is sal die belastingjurisdiksie van die verslagdoenende entiteit vir die multinasionale entiteitsgroep asook die naam van die verslagdoenende entiteit, moet spesifiseer. ’n Aantal addisionele lynitems is ook bygevoeg op die belastingberekenings-gedeelte van die ITR14 ten einde ander wetsamendemente in aanmerking te neem.
’n Voorbeeld van die nuwe ITR14 is op die SAID se webtuiste beskikbaar vir verdere oorweging. Belastingvoldoeningsamptenare van maatskappye behoort hierdie nuwe vereistes sorgvuldig te oorweeg om te verseker dat die toepaslike ITR14 korrek voltooi word en dat die vereiste ondersteunende dokumentasie saam met die ITR14 ingedien word. Maatskappye wat reeds nuwe belastingopgawes op eFiling geskep het maar dit nog nie ingedien het nie, sal ook moet oorweeg in watter mate die wysigings hierdie opgawes sal beïnvloed.
[1] No. 58 van 1962
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)