VERHALING VAN INKOMSTEBELASTING
February 21, 2018
ADDITIONAL MEDICAL EXPENSES TAX CREDIT
March 12, 2018

Artikel 6A van die Inkomstebelastingwet[1] maak voorsiening vir ’n medieseskemafooie-belastingkrediet (MTC) of korting, wat die bedrag van inkomstebelasting betaalbaar deur ’n natuurlike persoon (hierna die “belastingpligtige” genoem), verminder. Die MTC is van toepassing op die fooie wat die belastingpligtige betaal aan ’n geregistreerde mediese skema wat tot sy of haar eie voordeel is of tot voordeel van sy of haar afhanklikes.

Die MTC is ’n vaste maandelikse bedrag wat toeneem op grond van die getal afhanklikes. Vir die 2017/2018-jaar van aanslag (1 Maart 2017 tot 28 Februarie 2018) is die krediet R303 vir die belastingpligtige, ’n verdere R303 vir die eerste afhanklike en R204 vir elkeen van die belastingpligtige se addisionele afhanklikes.

’n “Afhanklike” met betrekking tot ’n belastingpligtige vir doeleindes van artikel 6A, word in die Wet op Mediese Skemas[2] omskryf. Met verwysing na die lid van die mediese skema (hier die belastingpligtige) sluit dit in die eggenoot of lewensmaat van die belastingpligtige, enige afhanklike kinders of ander lede van die belastingpligtige se onmiddellike familie ten opsigte van wie die belastingpligtige aanspreeklik is vir gesinsorg en ondersteuning, asook enige ander persoon wat kragtens die reëls van die betrokke mediese skema erken word as ’n afhanklike van die belastingpligtige.

Bydraes betaal deur die werkgewer van ’n belastingpligtige word geag deur daardie belastingpligtige betaal te gewees het in die mate dat die bedrag as ’n belasbare voordeel by die inkomste van daardie persoon ingesluit is. Bydraes deur ’n werkgewer wat gemaak word nadat ’n werknemer afgetree het, het geen byvoordeelwaarde nie.[3] Die omgekeerde is ook waar: waar ’n werkgewer die totale bydraes van ’n gewese werknemer tot ’n mediese skema betaal, sal die voordeel nie vir belastingdoeleindes geld nie en die gewese werknemer sal nie geregtig wees om die MTC vir die maande na aftrede te eis nie. Indien die gewese werknemer egter gedurende die maande na aftrede enige gedeelte van die bydraes aan die mediese skema betaal, sal hy of sy die MTC vir daardie maande kan eis. Dit is omdat, ten einde die MTC te eis, dit net nodig is dat fooie deur die belastingpligtige betaal word. Enige bydrae wat deur die belastingpligtige betaal word, moet dus aanleiding gee tot die MTC.

Samevattend, enige fooie wat deur die belastingpligtige self betaal word (die volle bydrae al dan nie) of deur die boedel of werkgewer (mits die bedrag as ’n belasbare voordeel in aanmerking geneem word) word in aanmerking geneem vir die doeleindes van MTC as bydraes betaal deur die belastingpligtige.

[1] 58 van 1962

[2] 131 van 1998

[3] Paragraaf 12A (5) (a) van die Sewende Bylae van die Inkomstebelastingwet

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X