Twee veelseggende beslissings betreffende die vergoeding van nie-uitvoerende direkteure is gedurende Februarie 2017 deur die SAID gepubliseer. Hierdie beslissings, Bindende Algemene Beslissings 40 en 41, het betrekking op die wyse waarop BTW en LBS onderskeidelik, toegepas word op die vergoeding wat aan nie-uitvoerende direkteure betaal word. Die belangrikheid van beslissings in die algemeen is dat hulle ‘n bindende verpligting op die SAID plaas om belastingwette in ooreenstemming met die beslissings te interpreteer en toe te pas. Dit dra dus baie by tot die skep van sekerheid by die publiek oor hoe om bepaalde sake te benader en om seker te wees dat die behandeling wat hulle geniet ook met die SAID se interpretasie van die wet ooreenstem, in hierdie geval soos dit betrekking het op die toepassing van belasting op die vergoeding van nie-uitvoerende direkteure.
Die beslissings gaan albei van die standpunt uit dat die term “nie-uitvoerende direkteur” nie in die Inkomstebelastingwet of die BTW-wet gedefinieer word nie. Die beslissings steun op die King lll-verslag om te bepaal dat die rol van ‘n nie-uivoerende direkteur tipies die volgende sou insluit:
Daar is dus ‘n duidelike onderskeid met die aktiewe, meer operasioneel-gedrewe rol van ‘n uitvoerende direkteur.
Weens die onafhanklike aard van hul rol word nie-uitvoerende direkteure nie geag “werknemers” te wees vir die doeleindes van LBS nie. Daarom sal bedrae wat aan hulle betaalword as vergoeding nie langer onderhewig wees aan die weerhouding van LBS deur die maatskappye wat vir hul dienste betaal nie. Boonop sal die beperking op die aftrekking van uitgawes vir inkomstebelastingdoeleindes wat geld vir “gewone”werknemers nie van toepassing wees op bedrae ontvang as vergoeding vir dienste wat deur nie-uitvoerende direkteure gelewer word nie. Die motivering vir hierdie bepaling is dat nie-uitvoerende direkteure nie werknemers is in die sin dat hulle onderhewig is aan die toesig en beheer van die maatskappy wat hulle dien nie en dat daar nie vereis word dat hul dienste op die perseel van die maatskappy gelewer word nie. Nie-uitvoerende direkteure vervul dus hul besondere rol onafhanklik van die maatskappye waardeur hulle op dié wyse in diens geneem word.
Uit ‘n BTW-oogpunt en op dieselfde grondslag as die bogaande sal die onafhanklike bedryf wat so beoefen word egter vereis dat nie-uitvoerende direkteure voortaan vir BTW moet registreer aangesien hulle ‘n onderneming bedryf afsonderlik en onafhanklik van die maatskappy wat vir hierdie dienste betaal, welke dienste dus nie as “indiensname” gereken kan word nie. Hierdie situasie sal waarskynlik nie ‘n invloed hê op die netto finansiële effek vir die maatskappy wat vir die dienste van die nie-uitvoerende direkteur betaal of op die direkteur self nie: die direkteur sal sy fooie met 14% verhoog om vir die BTW-effek voorsiening te maak terwyl die maatskappy (wat waarskynlik reeds vir BTW geregistreer is) in staat sal wees om die verhoging as ‘n insetbelastingkrediet van die SAID terug te eis. Uit ‘n voldoeningsoogpunt is dit egter uiters lastig, veral in ‘n situasie waar die SAID reeds uitermate huiwerig is om belastingbetalers vir BTW te registreer.
Albei die beslissings is vanaf 1 Junie 2017 van toepassing. Daar moet veral uit ‘n BTW-oogpunt hiervan kennis geneem word aangesien BTW- registrasies reeds aangevra en goedgekeur moet wees met ingang 1 Junie 2017. Die proses om BTW-registrasie aan te vra moet dus dringend deur individue wat geraak word aan die gang gesit word aangesien die afhandeling daarvan etlike weke in beslag kan neem.
Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)