Die aftrekbaarheid van rente vir inkomstebelastingdoeleindes en meer bepaald die toepassing van die SAID se Praktyknota 31,was onlangs onder die loep in Mr X v CSARS [1]. In die breë sal uitgawes vir die doeleindes van inkomstebelasting aftrekbaar wees as al die vereistes van artikel 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962, nagekom word:
“For the purpose of determining the taxable income derived by any person from carrying on any trade, there shall be allowed as deductions from the income of such person so derived … expenditure and losses actually incurred in the production of the income, provided such expenditure and losses are not of a capital nature…”
Iets wat in die uitspraak van die hof besonder beklemtoon is, was of die rente wat ter sprake was, aangegaan is:
Die belastingbetaler, Mnr. X, was sedert 2004 ‘n direkteur by ‘n regsfirma en het van tyd tot tyd fondse aan die firma voorgeskiet ten einde die firma se bedryfskapitaalreserwes aan te vul. Mnr. X het rente op hierdie leningsrekening verdien. Teen ongeveer dieselfde tyd het Mnr. X ‘n huis in Constantia gekoop en die aankoopprys gefinansier deur die registrasie van ‘n verband oor die eiendom as sekuriteit vir ‘n lening wat by ‘n plaaslike bank uitgeneem is. Die banklening het rente gedra en dit is die aftrekbaarheid van hierdie rente wat betwis is.
Die belastingbetaler het primêr op die bepalings van Praktyknota 3 1 gesteun om hom toe te laat om die rente wat betaal is af te trek van die rente wat verdien is. Die partye was dit eens dat die Praktyknota só funksioneer dat rente wat betaal word, geag word vir die doeleindes van handel te wees, beperk tot die mate waarin die betrokke belastingbetaler rente-inkomste sou verdien het. Aangesien Mnr. X die rente-aftrekkings wat geëis is beperk het tot die rente wat op sy persoonlike leningsrekening verdien is, lyk dit onbetwisbaar dat die rente betaal op sy huislening behandel moes word as sou dit aangegaan was vir die doel van handel, in ooreenstemming met Praktyknota 31 (al was dit, tegnies gesproke, nie die geval nie).
Wat egter betwis is, is of die rente wat teenoor die bank aangegaan is geag kon word in die produksie van inkomste te wees, synde die rente verdien op die lening aan Mnr. X se werkgewer. Mnr. X het verskeie argumente aangevoer om te toon dat daar ‘n voldoende verband bestaan tussen die rente betaal en die rente verdien. Die primêre argument was dat, as daar nie van hom verwag is om leningsfinansiering aan sy werkgewer te verskaf nie, hy sodanige fondse sou gebruik het om ‘n deel van sy huislening af te los en dus sy rente-uitgawes te verminder.
Uiteindelik, egter, en gegrond op die feite, het die hof teen Mnr. X bevind en bepaal dat die rente wat gehef is nie in die produksie van rente-inkomste op Mnr.X se leningsrekening geskied het nie
en daarom nie vir belastingdoeleindes aftrekbaar was nie. Wat egter ook van belang is, is die hof se bevinding dat hoewel Praktyknota 31 weliswaar mag ag dat rente wat teenoor die bank aangegaan is, vir die doeleindes van handel was (in die mate dat ‘n vergelykbare bedrag aan rente ook verdien word), dit nie die vereiste dat rente aangegaan word in die produksie van inkomste, insluit nie. Praktyknota 31 behandel nie hierdie vereiste nie en daar word steeds van belastingbetalers vereis om ‘n oorsaaklike verband tussen rente betaal en rente verdien aan te toon ten einde dit te kwalifiseer vir aftrekking vir inkomstebelastingdoeleindes, selfs al word ‘n vergelykbare bedrag aan rente ook verdien.
[1] Tot nog toe ‘n ongerapporteerde uitspraak, saaknommer 13791 & 13792, 13 Desember 2016
Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)