Afdeling 37 van die Wet op Belastingadministrasie, 28 van 2011 (die Adminwet) vereis van belastingbetalers om ‘n transaksie wat kwalifiseer as ‘n “rapporteerbare transaksie” te rapporteer. Versuim van die belastingbetaler sal lei tot die hef van ‘n boete wat wissel tussen R50 000 en R300 000 per maand (afdeling 212) vir so lank as 12 maande. Die doel met die verpligting op belastingbetalers om sekere transaksies te rapporteer, is vanselfsprekend: om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) in staat te stel om transaksies waarin hy kenmerke van potensiële belastingvermyding bespeur, op ‘n deurlopende basis te monitor.
‘n “Transaksie” (gedefinieer as insluitend enige transaksie, ooreenkoms, reëling, plan of verstandhouding) word beskou as ‘n “rapporteerbare transaksie” indien dit óf aan een van die kriteria uiteengesit in afdeling 35(1)(a) tot (e) voldoen, óf spesifiek in ‘n openbare kennisgewing uitgereik deur die Kommissaris van SAID gelys word.
Hierdie artikel handel slegs oor laasgenoemde, en sodanige openbare kennisgewing is op 16 Maart 2015 in die Regeringsgazette nr. 38569 as Kennisgewing 212 uitgereik. Hierdie Kennisgewing lys die volgende transaksies, hieronder opgesom, wat as “rapporteerbare transaksies” beskou word:
Die ooglopende doelwit daarmee dat die Kommissaris toegelaat word om ‘n lys reëlings soos bogenoemde te publiseer, is om aan die SAID die vermoë te gee om transaksies en/of strukture te identifiseer wat dikwels deur belastingbetalers gebruik word om belasting te ontduik. Die publisering van ‘n lys soos bogenoemde stel die SAID in staat om ‘n buigsame benadering te volg in die identifisering en monitering van belastingkomplotte, asook om die bevoegdheid te behou om selfs verdere transaksies te publiseer wat gerapporteer moet word sonder om deur die tydrowende wetgewingsproses te moet gaan om hierdie transaksies in die Adminwet gelys te kry.
Benewens ‘n lys transaksies wat per se sal kwalifiseer as rapporteerbare reëlings bepaal die Kennisgewing ook dat, vir die doeleindes van sodanige reëlings genoem in afdeling 35(1)(a) tot (e) waarna vroeër verwys is (in teenstelling met dié wat in die Kennisgewing self gelys is), ‘n transaksie nie rapporteerbaar sal wees indien die belastingvoordeel voortspruitend daaruit vir alle betrokke partye nie R5 miljoen sal oorskry nie. Hierdie drempel van R5 miljoen is egter nie van toepassing op die lys transaksies waarna hierbo verwys word en wat in die Kennisgewing self gelys word nie.
Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)