Ons kliënte het waarskynlik die verskeidenheid advertensies oor die radio en in die algemene media opgemerk waarin finansiële diensteverskaffers die publiek uitnooi om in hul onderskeie sogenaamde “belastingvrye” beleggingsprodukte te belê. Hierdie produkte word moontlik gemaak deur afdeling 12T van die Inkomstebelastingwet, 58 van 1962, wat in 2015 bekendgestel is as ‘n inisiatief deur die Nasionale Tesourie ten einde ‘n spaarkultuur onder die Suid-Afrikaanse publiek aan te moedig deur gebruik te maak van die voorafbepaalde en spesifieke toegewings met betrekking tot inkomstebelasting op hierdie rekenings.
In wese beteken dit dat alle bedrae wat uit belastingvrye spaarrekenings ontvang word, vrygestel is van inkomstebelasting, en meer spesifiek:
Die belastingvrye spaarregime is egter net van toepassing op natuurlike persone en bestorwe boedels van persone wat in lewe bydraes tot hierdie “belastingvrye spaarrekenings” gemaak het. Die regime is dus nie beskikbaar vir maatskappye of trusts nie. Bydraes tot sodanige rekenings word egter beperk tot R30 000 jaarliks sowel as ‘n totaal van R500 000 in ‘n persoon se leeftyd. Waar hierdie totale oorskry word, sal die oortollige bedrag as belasbare inkomste van die bydraende persoon beskou word en volgens voorskrif teen 40% belas word. (Dit blyk dat hierdie bedrag deur die Wetgewer misgekyk is toe die maksimum marginale inkomstebelastingkoers vir individue onlangs verhoog is vanaf 40% tot 41% …) Dit is ‘n redelik knellende voorwaarde, en sorg moet dus gedra word deur individue wat bydra tot hierdie belastingvrye spaarrekenings om nie die bedrae te oorskry nie. Oordragte tussen belastingvrye spaarrekenings asook enige inkomste wat deur ‘n individu vanuit belastingvrye beleggingskapitaal ontvang word, word egter nie in die R30 000 of R500 000-beperkings ingesluit nie. Die beperkings is dus net van toepassing op nuwe kapitaal wat by ‘n individu se belastingvrye spaarrekening gevoeg word en kumulatief bereken word.
Dit is twyfelagtig of die inisiatief ver genoeg strek en so winsgewend is as wat dit met eerste oogopslag voorkom. Belastingbetalers wat ‘n natuurlike persoon is, sal daaraan herinner word dat hulle alreeds ‘n jaarlikse R30 000 effektiewe korting op kapitaalwinsbelasting ontvang (die eerste R30 000 van kapitale wins/verlies gerealiseer in ‘n belastingjaar word geïgnoreer vir kapitaalwinsbelasting doeleindes), en dat hulle verder ook ‘n jaarlikse rentevrystelling van R23 800 ontvang (R34 500 in die geval van individue ouer as 65), nieteenstaande die 12T-toegewings.
Wanneer in aanmerking geneem word dat finansiële produkte wat as konserwatief beskou word tipies dié produkte is wat deur die Finansiële Diensteraad goedgekeur word as “belastingvrye spaarbeleggingsrekenings”, sal dit nie vanselfsprekend wees dat na-belasting wins uit belastingvrye spaarrekenings noodwendig spaargeld in die konvensionele vorm sal oorskry nie.
Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)