Die belangrikste vorme van huweliksgoedere-bedeling is die huwelik binne gemeenskap van goedere, die huwelik buite gemeenskap van goedere met die uitsluiting van die aanwasbedeling, en die huwelik buite gemeenskap van goedere met die insluiting van die aanwasbedeling.
Huwelik binne gemeenskap van goedere
- Daar is geen vooraf kontraktuele ooreenkoms nie, afgesien van trou;
- Gades het nie twee afsonderlike boedels nie;
- Daar is ‘n gemeenskaplike boedel en elke gade het ‘n aandeel van 50% in elke bate in die boedel, ongeag in wie se naam dit geregistreer is;
- Dit geld vir die bates verkry voor die huwelik asook tydens die huwelik;
- Indien een gade skuld aangaan in sy/haar eie naam, sal sy/haar gade outomaties daardeur gebind word en ook aanspreeklik gehou word vir die skuld;
- Indien ‘n sekwestrasie plaasvind (in die geval van insolvensie), sal die gemeenskaplike boedel gesekwestreer word.
Huwelik buite gemeenskap van goedere met die uitsluiting van die aanwasbedeling
- ‘n Notariële huweliksvoorwaardekontrak (HVK) word voor die sluiting van die huwelik opgestel deur ‘n prokureur (wat geregistreer is as ‘n notaris);
- Indien daar geen kontrak bestaan nie, sal die huweliksbedeling outomaties binne gemeenskap van goedere wees;
- Die waardes van elke gade se boedel by huweliksluiting word in hierdie kontrak vervat;
- ‘n Huwelik met ‘n HVK beteken dat al die eiendom wat deur die gades besit word voor die datum van huweliksluiting, die eiendom van die betrokke gade sal bly;
- Elke gade het volle beskikkingsreg oor sy/haar eie bates (met ander woorde sonder vooraftoestemming van die ander), alhoewel daar ‘n plig rus op elke gade om volgens sy/haar vermoë by te dra tot die gesamentlike huishoudelike uitgawes;
- Bates verkry in die loop van die huwelik sal slegs die uitsluitlike eiendom van een gade bly indien die aanwasbedeling uitdruklik deur die gades uitgesluit word.
Huwelik buite gemeenskap van goedere met die insluiting van die aanwasbedeling
- Die huwelik buite gemeenskap van goedere sluit outomaties die aanwasbedeling in, tensy dit uitdruklik deur die gades in die HVK uitgesluit word;
- Eers met ontbinding van die huwelik tree die aanwasbedeling in werking en moet groei van elke gade se boedel vasgestel word.
BOEDELBEPLANNING
Skenkings tussen gades is vrygestel van skenkingsbelasting asook boedelbelasting.
Huwelik binne gemeenskap van goedere
- In die geval van die dood van ‘n eggenoot het die langslewende gade ‘n eis vir 50% van die waarde van die gesamentlike boedel en word die werklike waarde van die boedel derhalwe verminder met 50%. Die boedel word eers verdeel nadat al die skuld vereffen is (begrafniskoste en boedelbelasting word hierby uitgesluit, aangesien die oorledene en nie die gemeenskaplike boedel nie, hiervoor aanspreeklik is).
- By die opstel van ‘n testament is dit belangrik dat gades wat getroud is binne gemeenskap van goedere, bewus moet wees daarvan dat hy/sy slegs die helfte van ‘n bate bemaak.
- By die dood van ‘n eggenoot word alle bankrekenings gevries (selfs al is die rekenings slegs in een van die gades se naam). Dit kan ‘n invloed hê op likiditeit.
- Skenkings of erflatings aan iemand getroud binne gemeenskap van goedere kan ook uitgesluit word van die gemeenskaplike boedel. Die skenker kan met ander woorde bepaal dat die skenking nie binne die gemeenskaplike boedel moet val nie. Die ontvanger daarvan sal dan ‘n afsonderlike boedel kan opbou maar die opbrengs van sodanige afsonderlike bates sal weer binne die gesamentlike boedel val.
Huwelik buite gemeenskap van goedere met die uitsluiting van die aanwasbedeling
Elke boedelbeplanner (gade) behou besit van bates wat voor die huwelik verkry is.
Huwelik buite gemeenskap van goedere met die insluiting van die aanwasbedeling
‘n Skenking van een gade aan die ander gade word uitgesluit by die berekening van elke gade se aanwas. Die ontvanger van die geskenk kan dit met ander woorde nie in berekening bring wanneer die groei van sy/haar aanwas vasgestel word nie en die skenker se aanwas word outomaties verminder met die skenkingsbedrag.
EGSKEIDING
In die geval van egskeiding word die huwelik ontbind deur ‘n hofbeslissing en sal die hof dan aspekte soos onderhoud vir ‘n kind, kontak (toegang), voogdyskap en sorg (toesig), onderhoud vir die gade, die verdeling van bates, verdeling van pensioenbelange, ensovoorts bepaal.
SAAMWOON EN DIE DEFINISIE VAN ‘GADE’
“Saamwoon” word gedefinieer as ‘n stabiele, vaste verhouding waar ‘n paartjie wat nie wil of kan trou nie, saamleef as gades. Die Wysigingswet op Belastingwet het die definisie van “gades” uitgebrei deur ook in te sluit “a same sex or heterosexual union which the Commissioner is satisfied is intended to be permanent”.
Verskeie stukke wetgewing soos die Wysigingswet op Pensioenfondse en Wysigingswet op die Belastingwet, definieer “gade” om ook ‘n lewensmaat in ‘n saamwoonverhouding, in te sluit. Die effek is dat saamwoon-lewensmaats voordeel trek uit die artikel 4(q)-boedelbelastingaftrekking soos bepaal in die Boedelbelastingwet, en die skenkingsbelastingvrystelling van die Inkomstebelastingwet.
Hierdie artikel bevat slegs algemene inligting en moenie gebruik of beskou word as professionele raad nie. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade weens vertroue op hierdie inligting nie. Raadpleeg altyd u finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies.