Should I draft a will?
July 13, 2015
Hantering van die huwelik en boedelbeplanning
July 13, 2015

A2bDie samestelling en verifiëring van ‘n telkaart van ‘n entiteit in terme van die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BGSEB) word uitgevoer volgens die Kodes vir Goeie Praktyk (die Kodes) wat deur die Departement van Handel en Nywerheid (dti) uitgereik is. Die Kodes is gewysig en die nuwe Kodes is op Vrydag 11 Oktober 2013 in die Gazette gepubliseer. Hierdie verandering sal ‘n beduidende impak hê op die BGSEB-strategie van ondernemings, en daar sal deeglik besin moet word oor aanpassings van hierdie aspek.

Belangrike veranderings van die vorige Kodes sluit in:

  1. Die sewe elemente op die telkaart is tot vyf elemente gereduseer en die belading van elke element is soos volg aangepas:
    • Eienaarskap (25 punte belading)
    • Bestuursbeheer (15 punte belading)
    • Vaardigheidsontwikkeling (20 punte belading)
    • Ondernemings- en Verskaffersontwikkeling (40 punte belading)
    • Sosio-Ekonomiese Ontwikkeling (5 punte belading)
  2. Die totale aantal punte sal nou 105 wees in plaas van die vorige 100.
  3. Die elemente Eienaarskap, Vaardigheidsontwikkeling en Ondernemings- en Verskaffersontwikkeling is nou gekategoriseer as prioriteitselemente, wat beteken dat sekere minimum vereistes van toepassing op hierdie elemente is. Daar word van groot ondernemings verwag om aan al die prioriteitselemente te voldoen, terwyl Kwalifiserende Klein Ondernemings (KKO’s) die keuse het om aan Eienaarskap en een van die oorblywende prioriteitselemente te voldoen.
  4. Indien daar nie aan die minimum vereistes wat aan die prioriteitselemente gestel word, voldoen word nie, sal die werklike vlak wat behaal word, met een vlak verlaag word.
  5. Die beperkings vir Vrygestelde Mikro-ondernemings (VMO’s) is aangepas vir ondernemings met ‘n jaarlike omset van tussen R0 en R10 miljoen (tensy ‘n sektorhandves van toepassing is). VMO’s sal steeds as vlak vier-bydraers beskou word.
  6. KKO-beperkings is aangepas vir ondernemings met ‘n jaarlikse omset van tussen      R10 miljoen en R50 miljoen (tensy ‘n sektorhandves van toepassing is).
  7. VMO’s en KKO’s met swart eienaarskap van meer as 51% sal outomaties as vlak twee-bydraers kwalifiseer.
  8. VMO’s en KKO’s met swart eienaarskap van 100% sal outomaties as vlak een-bydraers kwalifiseer.
  9. Nuwe ondernemings sal steeds as VMO’s gemeet word tydens die eerste jaar na die vorming van die onderneming.

Daar sal ‘n tydperk van twaalf maande wees vanaf 11 Oktober 2013 tot 10 Oktober 2014 waartydens ondernemings die keuse het om hul telkaarte saamgestel en geverifieer te kry onder óf die ou Kodes óf die nuwe Kodes. Die doel hiervan is om aan ondernemings die geleentheid te gee om hul BGSEB-strategie te implementeer en in lyn te bring met die nuwe Kodes. Sektorhandveste moet ook in lyn met die nuwe Kodes gebring word, maar dit is onduidelik of dit moontlik sal wees of selfs vereis word om dit binne hierdie twaalf-maande tydperk te doen.

Dit is uiters noodsaaklik om die advies van kenners in te win wanneer die onderneming se BGSEB-strategie aangepas word, ten einde duur foute te voorkom en die maksimum voordeel vir die onderneming te verseker, maar terselfdertyd behoorlik aan die vereistes van die relevante BGSEB-wetgewing te voldoen. Ondernemings wat byvoorbeeld voorheen op ‘n jaarlikse Sosio-ekonomiese Ontwikkelingstoelaag staatgemaak het om ‘n vereiste BGSEB-vlak te verkry, sal hierdie bedrag nou aansienlik moet aanpas.

Slegs gekwalifiseerde verifikasie-agente wat onder IRBA of SANAS geakkrediteer is, mag onafhanklike verifiërings uitvoer en die toepaslike sertifikaat uitreik.

Hierdie artikel bevat slegs algemene inligting en moenie gebruik of beskou word as professionele raad nie. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade weens vertroue op hierdie inligting nie. Raadpleeg altyd u finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X