Eienaars van deeltydse en klein besighede, bv. netwerkbemarkers, eiendomsagente, konsultante en alleeneienaars, gebruik dikwels een bankrekening vir persoonlike en besigheidsdoeleindes, wat daartoe lei dat besigheids- en privaat uitgawes deurmekaar raak. Dit kan op die lange duur probleme vir die besigheid en die individu veroorsaak, veral rakende belasting en wanneer later om lenings aansoek gedoen word.
Waarom is dit nodig om besigheids- en privaat uitgawes te skei deur twee rekenings te gebruik? Die volgende is die belangrikste redes:
1. Belastingoorwegings
Die onus rus op die belastingbetaler om te bewys dat ‘n uitgawe vir besigheidsdoeleindes aangegaan is, indien hulle dit van belasting wil aftrek. Aparte bankrekenings kan die SAID oortuig dat jou besigheid werklik ‘n besigheid is en nie net ‘n stokperdjie nie. In die geval waar die SAID ‘n belasting-oudit doen, sal dit makliker vir die besigheidseienaar wees om die belastingaftrekbaarheid van besigheidsuitgawes te bewys as hierdie uitgawes uit ‘n ander rekening betaal word as dié wat vir privaat doeleindes gebruik word.
Indien ‘n besigheidseienaar besigheids- en privaat uitgawes meng, is dit maklik om ‘n besigheidsuitgawe mis te kyk wat moontlik belastingaftrekbaar kan wees. Deur uitgawes te skei, kan verseker word dat alle belastingaftrekkings geëis word, wat belasbare inkomste verminder en dus belasting betaalbaar verlaag.
Indien ‘n tuiskantoor gebruik word, mag jy moontlik geregtig wees op ‘n belastingaftrekking vir tuiskantoor-uitgawes indien jy aan die vereistes van die Belastingwet voldoen. Die SAID is baie streng in die toepassing van die vereistes vir tuiskantoor-uitgawes. Die tuiskantoor en alle meubels en toerusting daarin moet uitsluitlik vir besigheidsdoeleindes gebruik word. As jy speletjies op jou rekenaar het, kan jy nie wettiglik tuiskantoor-uitgawes aftrek vir belastingdoeleindes nie. As jy meer inligting verlang oor die aftrekbaarheid van tuiskantoor-uitgawes, kontak gerus jou belastingpraktisyn.
Wanneer ‘n kliënt aan jou persoonlik ‘n tjek uitmaak, of geld in jou persoonlike rekening deponeer, kan dit maklik die indruk skep dat jy maar net ‘n paar rand uit ‘n stokperdjie verdien en nie werklik ‘n besigheid bestuur nie. Aangesien uitgawes rakende stokperdjies nie belastingaftrekbaar is nie, is dit nie die soort indruk wat jy by die SAID wil skep indien jy ernstig daaroor is om jou besigheid as ‘n besigheid te bedryf nie, nou en in die toekoms.
2. Professionaliteit
Dit lyk baie meer professioneel en asof die besigheidseienaar ernstig is oor die besigheid as hy/sy twee aparte bankrekenings gebruik, eerder as om dieselfde rekening vir privaat- en besigheidsdoeleindes te gebruik.
3. Spaar tyd en geld
Dit sal nie nodig wees vir die besigheidseienaar en/of die boekhouer of belastingpraktisyn om kwitansies en bankstate uit die verlede te sit en sorteer in ‘n poging om besigheidsuitgawes te probeer vasstel nie. Die tyd, geld en energie wat deur twee aparte bankrekeninge gespaar word, kan baie beter aangewend word in die uitbreiding van die besigheid.
4. Leningsaansoeke
Dit is makliker om finansiering te kry wanneer om banklenings aansoek gedoen word as die besigheid ‘n aparte identiteit het. Die besigheidseienaar sal waarskynlik ‘n waarborg in sy/haar persoonlike hoedanigheid moet onderteken as sekuriteit vir die besigheidslening by die bank, maar die feit dat die besigheid se finansies apart van die besigheidseienaar se persoonlike sake bedryf word, sal die eienaar se voorneme om ‘n besigheid te bestuur en nie net ‘n stokperdjie te bedryf nie, bevestig.
5. Beter organisasie = Beter bestuur
Deur besigheidsuitgawes in ‘n aparte bankrekening te hou, sal rekordhouding en liassering van belastingopgawes minder tydrowend en minder verwarrend wees, en dit ook makliker maak om tred te hou met die dag-tot-dag besigheidsuitgawes. Soos voorheen genoem, kan die tyd, energie en geld wat bespaar word baie beter aangewend word in die bestuur van die besigheid.
Alhoewel twee aparte bankrekenings, een vir besigheid en een vir privaatgebruik, addisionele koste mag meebring en bankkoste selfs kan verdubbel, is die langtermyn voordele beslis die addisionele uitgawe vir bankkoste werd.
Indien jy meer inligting benodig rakende die voordele van aparte persoonlike en besigheidsbankrekenings, kontak gerus jou belastingpraktisyn en/of jou finansiële adviseur.
Hierdie artikel bevat slegs algemene inligting en moenie gebruik of beskou word as professionele raad nie. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade weens vertroue op hierdie inligting nie. Raadpleeg altyd u finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies.
Verwysingslys: