Soos in vorige artikels bespreek, is die beste manier om seker te maak dat daar met u bates gehandel word op die wyse wat u sou wou hê daarmee gehandel moet word, om ‘n testament op te stel en op datum te hou. Indien u sonder ‘n geldige testament te sterwe sou kom, word u bates verdeel in terme van die Wet op Intestate Erfopvolging, wat onpraktiese verdelings tot gevolg kan hê en ook kan veroorsaak dat persone u bates erf wat u nie sou wou hê van u moet erf nie.
In u testament het u uiteraard die vryheid om te bepaal hoe daar met u bates gehandel moet word. U sal ook ‘n Eksekuteur benoem wat sal handel met u bates en die administratiewe funksies sal verrig om die bepalings van die testament uit te voer en die administrasie van u boedel sal finaliseer.
Soos in vorige artikels gemeld moet die sterfgeval by die Meester van die Hoë Hof gerapporteer word en die oorspronklike testament (of die gebrek aan die relevante vereiste dokumentasie) ook aan die Meester gestuur word. Die Meester sal dan die Eksekuteur formeel aanstel deur ‘n Eksekuteursbrief aan hom/haar uit te reik en ‘n unieke boedelnommer word aan die boedel toegeken. Hierdie boedelnommer word dan in alle toekomstige korrespondensie en navrae met die Meesterskantoor gebruik.
Wat gebeur met my bankrekeninge?
Die Boedelwet bepaal dat alle bankrekeninge in die naam van die oorledene gevries en uiteindelik gesluit word, daarom is dit baie belangrik dat u voorsiening maak vir u naasbestaandes sodat hulle kontant beskikbaar sal hê by u afsterwe. Die rekeninge word normaalweg onmiddellik nadat die bank kennis neem van die afsterwe gevries, m.a.w. die rekeninge behoort nog gelde te kan ontvang, maar gelde kan nie meer uitbetaal word nie. Sodra die Eksekuteur aangestel word, moet hy/sy in terme van die bepalings van die Boedelwet ‘n nuwe bankrekening in die naam van “Boedel Wyle XYZ open”. Dit is omdat u, sodra u te sterwe kom, u bates nalaat aan wat u “boedel” vorm. ‘n Nuwe bankrekening word deur die Eksekuteur oopgemaak en alle gelde wat in enige ander bankrekening deur die oorledene gehou was, (en ook sy/haar gade in die geval van huwelike binne gemeenskap van goedere) word oorgedra na die nuwe bankrekening in die naam van die boedel. Alle boedelfondse word dan deur die Eksekuteur in die boedel se bankrekening geadministreer totdat die Likwidasierekening (staat van bates en laste) deur die Meester goedgekeur is en die Likwidasierekening vry van besware ter insae gelê het. Die eksekuteur sal dan in ‘n posisie wees om voort te gaan met die verdeling van boedelbates en finalisering van die administrasie van die boedel.
Onderhoud aan naasbestaandes
Dit neem egter enigiets van 3 weke tot 3 maande of selfs langer vir ‘n Eksekuteur om formeel deur ‘n Meesterskantoor aangestel te word. Die feit dat die Boedelwet vereis dat alle bankrekeninge so spoedig moontlik na datum van afsterwe gevries word, kan dus baie waarskynlik die gevolg hê dat die oorledene se gade of ander partye wat finansieel van hom/haar afhanklik was, nie toegang tot enige fondse het tot tyd en wyl die Eksekuteur aangestel is nie. In gevalle van partye wat binne gemeenskap van goedere getroud is, behoort die rekeninge in die naam van die nagelate gade volgens die bepalings van die Boedelwet ook gevries en gesluit te word, wat uiteraard dramatiese gevolge kan hê. Sodra die Eksekuteur aangestel word, sal hy/sy eers met die boedelbates kan begin handel en op hierdie stadium sal die Eksekuteur dan eers in ‘n posisie kan wees om tussentydse voorskotte teen erfenisse te oorweeg. Ons moedig u dus aan om voorsiening te maak dat daar onmiddellik na afsterwe kontant aan u naasbestaandes beskikbaar is.
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou finansiële adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies.